Lieflike Reën

Dankie Heer vir ‘n lieflike dag gister. Ons het gaan stap met Lady en sy het so lekker gehardloop, na die twee dae dat sy nie kon uitkom na die reën nie. Sy het lekker deur die damme water gehardloop. Die wêreld is lekker nat, na die reën. Alles lyk en ruik skoon en mooi. Ons loof U, omdat U so goed is vir ons. Wil U ons harte ook so skoon en rein maak, soos die reën die aarde. Vul ons met U Heilige Gees en lei ons op die regte weg. Help ons om U wil te doen, dat U Naam verheerlik sal word in alles wat ons doen.


Handelinge 22:3-21 – Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee, (vervolg ek dalk die Weg en dink ek doen ‘n werk vir God?) soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuie is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word. Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik ‘n groot lig uit die hemel my omstraal, en ek het op die grond geval en ‘n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? (Heer, vervolg ek U, terwyl ek dink dat ek vir U werk?) En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg. (Wie is U Here? – ken ek U regtig?) En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie. En ek het gesê: Wat moet ek doen   Here? (Here wys my ook wat ek moet doen asseblief, sodat ek U beter sal leer ken, en U nie onwetend sal vervolg en dink ek ywer vir die Here, nie) En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen. Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom. En ‘n sekere Ananías, ‘n vroom man volgens die wet, wat ‘n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon, het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk. (Heer, laat die skille ook van my oë afval asseblief, dat Ek U kan sien, en U kinders) En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; (Heer, U het ons almal voorbeskik om U wil te ken en U, die Regverdige te sien en U stem uit U mond te hoor!) want jy sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. (Heer, help my om ‘n getuie te wees vir U, van alles wat ek gesien en gehoor het) En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.(Heer, hier is ek, was my en reinig my van my sondes, en help my om U Naam aan te roep!)


Niemand is ooit uit ‘n verkeerde posisie teruggebring deur teregwysing en verwyt nie; maar baie is op hierdie manier van Christus weggejaag en het hulle harte teen oortuiging gesluit. ‘n Sagte gees, ‘n vriendelike, innemende houding kan diegene wat dwaal red en ‘n menigte sondes bedek. Die openbaring van Christus in jou eie karakter sal ‘n transformerende krag hê op almal met wie jy in aanraking kom. Laat Christus daagliks in jou gemanifesteer word, en Hy sal deur jou die skeppende krag van Sy woord openbaar—’n sagte, oortuigende, maar tog magtige invloed om ander siele te herskep in die skoonheid van die Here ons God. (Thoughts from the Mount of Blessing, p. 128)


Die dienaars van Christus moenie toelaat dat hulle verhinder word deur dié wat die evangelie slegs ‘n saak van twis en bespotting wil maak nie. Maar die Verlosser het nooit een siel, hoe diep in sonde ook al,  wat bereid was om die kosbare waarhede van die hemel te aanvaar, verbygegaan nie. Vir tollenaars en hoere was Sy woorde die begin van ‘n nuwe lewe. Maria Magdalena, uit wie Hy sewe duiwels gedryf het, was die laaste by die Verlosser se graf en die eerste wat Hy in die oggend van Sy opstanding gegroet het. Dit was Saul van Tarsus, een van die vasberade vyande van die evangelie, wat Paulus, die toegewyde dienaar van Christus, geword het. Onder ‘n voorkoms van haat en minagting, selfs onder misdaad en vernedering, mag daar ‘n siel versteek wees wat die genade van Christus sal red, om te skitter soos ‘n juweel in die Verlosser se kroon. (Thoughts from the Mount of Blessing, p.129)

Similar Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *